Sunday, September 16, 2012

Die Ewige Lewe


Vir die menslike brein is dit moeilik om die konsep van "ewigheid" regtig te verstaan.  Dit is tog die begeerte by die mens om vir ewig te lewe, en vir baie, om nooit dood te gaan nie.

'n Onlangse advertensie het as volg gelui:
"Real immortality forever true!  Join the superhuman beings"
Daar is baie vrae rondom die "ewige lewe" - sommige mense glo selfs dat die eerste kinders wat 'n 1000 jaar oud gaan raak, alreeds gebore is!  'n Sekere dokumentêre film getiteld, "How to Live Forever or Die Trying", beweer dat die mensdom baie naby is daaraan om die dood vry te spring!  
Oral oor die wêreld, is mense besig om na oplossings te soek sodat die mens vir ewig fisies jonk kan bly of 'n waarborg vir 'EWIGE LEWE".  Huidiglik is daar 'n koepon op internet beskikbaar wat jy kan koop wat die draer daarvan 'n ewige lewe waarborg - iets wat deur die Egiptenaars van ouds geïnspireer is - 
...maar ons weet almal dat geen mens die ewige lewe kan koop nie!  Daar is net een manier hoe iemand die ewige lewe kan ontvang.


(Joh 3:16)  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.
Die woord "ewige" in die skrifgedeelte, is die Griekse woord "aionios", wat beteken "unknown time, time out of mind" - 'n ewigheid saam met God.


(Joh 5:24)  "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe".



Kom ons kyk wat sê die Bybel oor die onderwerp van die "ewige lewe":
Meeste mense se verduideliking van "ewige lewe", sou wees dat
dit beteken "om vir ewig te lewe" - dit is egter net deel daarvan.

Die mens bestaan uit 'n liggaam, siel en gees.Volgens die skrif bly elke mens se siel en gees bestaan (vir ewig) in die hiernamaals - dus al gaan die liggaam dood, bly die siel en gees voortbestaan (vir ewig).   Wanneer iemand doodgaan, word sy siel en gees verwyder van die liggaam (wat terugkeer na stof), en die siel en gees gaan na óf hemel toe, óf hel toe.
DIE VRAAG WAT ONS EGTER MOET VRA, IS,  "WAAR IEMAND DIE EWIGHEID GAAN DEURBRING" - by God of verwyderd van Hom - in die hemel of in die hel?

(Gen 3:7) - "Toe gaan altwee (Adam en Eva) se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak".  Adam en Eva was nie meer onskuldig en sonder sonde nie - eens was hulle  God-bewus nie, maar nou, SELFBEWUS.  Hulle was ook nie meer in 'n opregte verhouding met God soos voor die val nie - hulle het sterflik geraak, onderworpe aan sonde en dood.

(Rom 6:23)  Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.
(Gen 3:22) - "Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!"
As Adam en Eva in die tuin sou bly, sou hulle kon eet van die "boom van die lewe" EN IN EWIGHEID LEWE!  Veronderstel God het hulle toegelaat om van die boom van die lewe te eet - dan sou hulle sondige liggame vir ewig lewe!  Terwyl die wêreld allerhande planne beraam om vir ewig jonk te bly en nooit fisies dood te gaan nie, begeer die Christen om van hierdie sondige liggaam ontslae te raak (die vlees).  Hierdie optrede van God, om hulle uit die tuin te stuur, was verseker GENADE.  Die fisies dood is dus die straf vir die sonde (m.a.w. erfsonde, nie daadsondes nie), daarom moet elke mens doodgaan. Daar is egter 'n hoeveelheid mense wat die fisiese dood wel gaan vryspring, en dit is die Christene wat nog in die lewe gaan oor wees met Jesus se wederkoms.  Dan sal hulle liggame in 'n oogwink verander word en hulle sal beklee word met nuwe liggame; (net soos die wat in Christus gesterf het dan sal opstaan uit die dood in nuwe liggame) (die skrif noem dit die eerste opstanding).  (Gaan na die "vrae wat tieners vra - eindtyd onderwerpe", vir skrifte hieroor).  

 Daar is ook twee mense opgeteken in die Ou Testament wat nooit doodgegaan het nie, nl. Henog en Elia.  Dit kan wees dat die Here hulle liggame in 'n oogwink verander het tot verheerlikte liggame, maar dit is net bespiegeling. (Hebr. 11:5; Gen. 5:24; 2 Kon. 2:10,11)




Wanneer die Bybel praat van die "ewige lewe", verwys dit nie net na "om vir ewig te lewe" nie, maar ook na iets anders. In 'n gebed wat Jesus tot die Vader gebid het, het Hy die volgende gesê: -(Joh 17:2,3)  "soos U Hom mag oor alle vlees gegee het, sodat Hy aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe kan gee.  En dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het."    Sommige mense is onder die indruk dat hulle Hom ken omdat hulle kerk toe gaan of 'n saligheidsgebed eens opgese het, maar om die Here te ken beteken dat jy tyd met Hom spandeer en Sy wil leer ken en doen.  As jy Jesus Christus en God die Vader nog nie regtig persoonlik ken nie, sal jy ook nie daardie "strome van lewende water" ervaar wat Jesus belowe het nie.  Toe Adam en Eva sondig, het hulle 'n belangrike, wonderlike verhouding opgegee - hulle het hulle eie wil gekies bo die wil van hulle Skepper.  Dit is soos 'n kind wat nie na sy ouers luister nie - dan kan daar nie 'n goeie verhouding wees tussen die ouers en die kind nie. Daarom het elke mens nodig om tot bekering te kom en so hulle eie wil te onderwerp aan die Here, sodat daardie verhouding tussen ons en die Here, herstel kan word.

(Matt. 7:21-23)- " Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!"

Kyk spesifiek na die woorde in Matt. 7:21-23:
*  "maar hy wat die wil doen van My Vader wat in die hemele is"
GEHOORSAAMHEID EN GELOOF GAAN HAND AAN HAND. 

 "Ewige Lewe" beteken dus nie net om vir ewig te lewe nie, maar om jouself onderdanig te stel aan die Here en Sy wil te soek en doen en so God die Vader te KEN, en Jesus, die Seun van God, te ken.




No comments: