Friday, September 7, 2012

Was die mense in die Bybel in kiste begrawe?

Was die mense in die Bybel in kiste begrawe?
Ons lees net van een voorbeeld in die hele Bybel van iemand wat in 'n kis begrawe is - dit was Josef.  "Kiste" was nie 'n Joodse gebruik nie, maar op daardie stadium wel in Egipte in gebruik - met Josef se geskiedenis in ag geneem, kan ons verstaan hoekom hy soos die Egiptenaars in 'n kis begrawe is.  Hy en sy vader, Jakob, is ook gebalsem ('n Egiptiese gebruik). (Gen. 50:3,26).

Mense het maar altyd hulle "dooies begrawe" en ons lees reeds in Gen. 23:4 (sowat 4000 jaar gelede) van hoe Abraham vir Sara 'n graf gekoop het.  Eerder as om afsonderlike grafte te maak, lees ons in die Nuwe Testamentiese tye dat die mense groot kamers in die rotse gemaak het waarin 'n paar mense begrawe kon word.  Die lyk was gewoonlik "gesalf",  "toegedraai in doeke" en dan in die graf neergelê.  Die graf het gewoonlik 'n lae deuropening gehad, maar was ruim binnekant en 'n ronde klip of plat steen was dan voor die deuropening gerol (soos ons lees van die graf waarin Jesus begrawe was).  Wanneer die vlees ontbind het, is die beendere somtyds in houtkiste of klipkiste gesit, terug in die graf.  Die name van die dooies was ook dikwels op die kiste uitgekrap. 

VERASSING: 
Groot debat heers onder sekere geleerdes rondom die onderwerp van "verassing".  Die vraag wat hulle vra, is, is dit reg om iemand te veras na hulle dood?  Daar is egter geen vers in die Bybel wat spesifiek die gelowige waarsku teen "verassing" nie, maar daar is wel skrifte oor "verbranding van die liggaam" in konneksie met oordeel of afgodsaanbidding.

Die wat "teen verassing" is, gebruik gewoonlik die skrifte in Amos 2:1 - "So sê die HERE: Oor drie oortredinge van Moab, ja, oor vier, sal Ek dit nie afwend nie; omdat hy die beendere van die koning van Edom tot kalk verbrand het" en Deut.12:3 -  "So mag jy nie handel met die HERE jou God nie; want alles wat vir die HERE ‘n gruwel is, wat Hy haat, het hulle vir hulle gode gedoen; want selfs hulle seuns en hulle dogters verbrand hulle met vuur vir hulle gode".  Die kontekste van die skrifte het egter nie een enige iets te doen met verassing nadat iemand doodgegaan het nie, maar inteendeel in kontekste gaan dit oor wraak en afgodsaanbidding, ook soos in die geval van Sodom en Gomorra.  Die Israeliete was bv. beveel om enige afgode te "verbrand" (Deut. 7:25), Moses het die goue kalf "verbrand" (Ex. 32:20), twee priesters wat vir God kwaad gemaak het, is deur Hom verbrand (Lev. 10:1,2), 250 Israeliete wat teen Moses en Aaron rebelleer het, is deur vuur "verbrand" (Num. 16:35), na die wit troon oordeel sal die ongeregtiges vir altyd in die helse vuur brand...ens.  Die term van "verbranding" is dus nie 'n mooi term in die skrif nie.  Ook is dit duidelik dat alle dooies "begrawe" was in vroeër tye.  Nêrens vind ons voorbeelde van "verassing" onder die gelowiges nie van die vroegste tye.  Vir baie gelowiges is dit egter geen probleem vandag nie en hulle voel hoegenaamd nie die negatiewe konneksies van die Bybelse tye rondom die term van "verbranding" nie.  Hulle word nie veras a.g.v. oordeel of afgodsaanbidding of veroordeling nie.  Logies ondersoek, moet ons erken dat menig gelowiges oor die eeue ernstige verdrukking moes deurgaan deur verbranding.   Kyk die Here dan nie eerder na die hart nie?  En gaan die liggaam dan nie in elk geval verlore nie?  En maak dit dan saak in die opstanding of iemand se liggaam bene of as is?  

Tog wil die gelowige niks te doen hê met "heidense praktyke" nie - die vraag is, is "verassing" 'n heidense praktyk en wat was die rede daarvoor?  Volgens sekere geleerdes, is dit egter die geval en is praktyke van verassing uitgevoer omdat hulle gereken het dat hulle die finale oordeel sal vryspring deurdat die liggaam dan nie opgewek kan word nie - daar is ook allerhande ander gelowe wat gepaardgegaan het met verassing.  Tog verstaan die moderne mens niks daarvan nie en doen hul dit nie om dieselfde redes nie - dieselfde debat wat heers rondom Kersfees!

Die debat heers dus voort en elke gelowige moet hom/haar deur die Heilige Gees laat lei om 'n besluit hieroor te neem wat aanneembaar is vir die Here. (Meeste gelowiges is egter eens hieroor - hulle begrawe hulle dooies soos dit gedoen is oor al die eeue - vroeë kerke het dit ook sterk teengestaan en waar geen spesifieke waarskuwing daaroor is in die skrif nie, volg hulle die voorbeeld wat reeds gestel is).

No comments: