Friday, October 4, 2013

Gedagtes

(Mat 5:27)  "Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie.
(Mat 5:28)  Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ‘n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het".

Die manier hoe 'n man bv. na 'n vrou kyk "om haar te begeer", het te doen met die GEDAGTES. Wanneer gedagtes van begeertes ("lust") gekoester word, dan kan iemand dus sondig in sy gedagtes.  Ons besef nie altyd die erns van "gedagtes vernuwe" nie en daarom stel ons onsself gereeld bloot aan sondes sonder dat ons agterkom. Behalwe dit, beinvloed daardie gedagtes ons optredes en gestel.  Wanneer iemand bly dink aan toe iemand hom onregverdig behandel het, dan het daardie gedagtes vreeslike gevolge soos dat die persoon negatief raak teenoor die ander, of dat die persoon die Here kan begin kwalik neem, of dat die persoon self voel soos 'n nikswerd, of dat hy nie by vergifnis uitkom nie, ens. Daardie gedagtes kan ook omsit in ander sondige gedagtes, bv. afguns of verbittering e.a. As iemand daaraan dink om selfmoord te pleeg, dan pleeg hy sonde net deur daaraan te dink! Deur ons eie begeertes, veroorsaak ons dat ons in "versoeking" val.  Soos enige ander sonde, moet dit bely word, en net soos ons ander sondes afle en nie stap in opsetlik aanhoudende sonde nie, moet daardie "gedagte-sonde" dieselfde hanteer word en moet dit nie verder gekoester word nie.  Ons moet besef die erns van wat ons toelaat in ons gedagtes.  In Ef. 4, praat Paulus juis van hierdie kwessie, van die gemoed en wat ons in ons gemoedens toelaat.  Hy se o.a. in v.23 - "en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed" - dan praat hy bv. verder van hoe ons nie moet lieg nie en nie die son moet laat ondergaan oor ons toorn nie... en dan v. 27 "en gee (so) aan die duiwel geen plek nie" .  Deur verkeerde gedagtes te koester bv. "om met daardie toorn-gedagtes te gaan slaap sonder om die gedagtes te vernuwe", veroorsaak dat daar plek gemaak word vir die duiwel - daar word dus plek gemaak vir verbittering ens.  
-------------------------------------------------------------------------------------------------------

Toe Kain vir Abel doodgemaak het, het dit begin by 'n gedagte!  God het hom gewaarsku hierteen: 
 (Gen 4:6) " En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?
(Gen 4:7)  Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers".  Kain het daardie verkeerde gedagtes gekoester, kwaad, sy hoof laat hang...  God maak dit duidelik in v.7 dat hy (Kain) wel BEHEER HET OOR DAARDIE GEDAGTES - "die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; MAAR JY MOET DAAROOR HEERS".  Alhoewel baie mense glo dat hulle geen beheer het oor hulle gedagtes nie, is dit nie waar nie.  

Elke mens het 'n wil en kan die besluit maak om sy gedagtes te verander - dit gaan hand in hand met "om jouself te onderwerp aan die Here" - aan Sy wil, gehoorsaam te wees aan Hom...  (vergifnis, om die waarheid te soek, om die godsaligheid na te jaag, om die Here se woorde en wette te oordink, te bepeins, om die Here se wil te soek en geduldig te wag op Sy antwoord, om aanhoudende sondes af te le ...............ens.
Die skrifgedeelte in 2 Kor. 10:3-6 word deur baie kerke heeltemal uit verband geneem en vele leerstellings word daar rondom gebou.  Christene word bv. o.a. geleer om te bid dat die Here hulle gedagtes vir hulle verander en lang gebede aangeleer waarmee hulle "die stryd stry", maar wat die skrifgedeelte einlik vir ons leer, is om self ons gedagtes te verander, te vernuwe: "terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus". 'n Gebed kan net help as die persoon self ook sy gedagtes verander.  Volgens die skrifgedeelte is dit die manier hoe ons die stryd stry en vestings neerwerp, m.a.w. wanneer die skrif se (2 Kor. 10:4)  "want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp", dan is dit in konteks met "om ons gedagtes te vernuwe, en dit (self) gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus.  
-------------------------------------------------------------------------------------------------------

Alhoewel daar vele skrifte is rondom die tema van "gedagtes", is dit nie eintlik iets waaroor Christene aldag praat nie.  (Selfs die wereld besef die invloed van gedagtes op ons gestel en lewe en vele mense neem deel aan oosterse meditasie, joga, ens. om hulle gedagtes te verander en dit af te sluit van dinge;  so ook is die Nuwe Era beweging se teologie  gebou op "om die manier hoe mense dink", te verander - hulle besef die krag daarvan!), maar Christene moet eerder WEGBLY VAN hierdie wereldse praktyke soos oosterse meditasie en gelowe wat nie Jesus Christus as enigste Saligmaker bely nie,  en kennis neem van wat die woord ons eerder leer oor die onderwerp van "gedagtes".  Baie Christene buk onder die las van "gedagtes wat hulle onderkry".  Dit is ook nie net vir uitgesoektes beskore nie, maar elke mens het hierdie probleem in die vlees. Ons moet dus kennis neem van wat die skrif ons leer oor die onderwerp en besef dat ons self in beheer is van ons gedagtes en moet bewus wees van verkeerde gedagtes, dit verander en ons gedagtes kry op die dinge daarbo.
Die mensdom is emosioneel uitgeput. Om die gedagtes te vernuwe, is iets wat elke Christen daagliks moet doen.  Ons moet ook seker maak dat ons genoeg persoonlike tyd inruim met die Here (soos Jesus vir ons geleer het), sodat ons perspektief kan verander en ons begin "sien soos Hy sien". Ons moet nie ons hoop in wereldse dinge plaas nie (soos Jesus vir ons geleer het);  die lewe moet ook nie vir ons gaan oor wat ons bymekaarmaak nie (soos Jesus vir ons geleer het). As ons gedagtes heeltyd op die wereldse is, dan gaan ons natuurlik vermoeid en belas voel (soos die res van die wereld).  Iemand voel moontlik belas omdat hy materialisties ingestel is (l.w. "gedagtes"!) op bv. besittings en voorkoms...  'n Ander voel dalk belas omdat hy homself meet aan ander se standaarde, soos om "belangrik te wees in die samelewing" - (weer-eens, let op die gedagtes!). As ons net besig is met die dinge wat 'n GEJAAG NA WIND is, sal die lewe nie sin maak nie.  Die Christen is veronderstel om anders te "dink en doen" as wat die wereld dink en doen;  meer presies, "is veronderstel om te dink soos die Here dink" (dus om Sy wil te soek en Hom gehoorsaam te wees). 
(Psa 139:23)  Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes;

(Rom 12:2)  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

(Heb 4:12)  Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

(Col 3:2)  Bedink die dinge wat daarbo is, nie wat op die aarde is nie.

(Rom 8:5)  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.
(Rom 8:6)  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede

(Mat 11:28)  Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.(Mat 11:29)  Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele"


No comments: