Friday, October 4, 2013

"Logika" is nie altyd die Wil van die Here nie!

In vandag se lewe word enige besluit gekoppel aan "hoe logies dit is".  Die wereldse mens sukkel om die logika van 'n Christen te verstaan omdat Christene anders dink en besluite anders benader.  Die ware kind van God neem besluite volgens die wil van die Here, nie volgens 'logika' nie, maar daar  is ook heelwat Christene wat eerder besluite neem volgens logika, in plaas van "volgens die wil van die Here"!  Die waarheid klink nie altyd "logies" nie, soos die feit dat die "koninkryk in so 'n mate begeer moet word, dat iemand bereid is om alles op te gee daarvoor"!  Die wereld OORDEEL volgens hulle eie sieninge en op wat hulle as logies bestempel. Die Christen is nie veronderstel om op dieselfde wyse besluite te neem, of te oordeel nie.  

 In die wereld word logika selfs gebou op "om te oordeel volgens kennis",  bv. om reg te eet;  tog verander hierdie "kennis" jaar na jaar en iets wat vandag 'n feit is, is nie meer more so nie, maar almal glo dit vandag.  Mense neem hierdie wereldse kennis aan, omdat dit vir hulle "logies" klink! En alhoewel die mens vandag dink dat hy dit alles uit"gefigure" het, is wereldse wysheid eintlik niks nuuts nie - selfs die eerste gemeentes was hieroor gewaarsku! (Kol 2:20-23 - "As julle dan saam met Christus die eerste beginsels van die wêreld afgesterf het, waarom is julle, asof julle nog in die wêreld lewe, onderworpe aan insettinge soos: raak nie, smaak nie, roer nie aan nie? — almal dinge wat deur die gebruik bestem is om te vergaan—volgens die gebooie en leringe van mense, wat, alhoewel dit ‘n skyn van wysheid het, in eiesinnige godsdiens en nederigheid en in gestrengheid teen die liggaam, geen waarde het nie, maar strek tot versadiging van die vlees").  (1Ti 4:8- "Want die liggaamlike oefening is tot weinig nut, maar die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het")...
-------------------------------------------------------------------------------------------------------
Deur die eeue het die groot manne van God,  hulle egter min gesteur aan "logika":

- Dit was bv. nie logies dat Moses 'n volk in die wildernis inlei, waar hulle almal moontlik kon sterf nie!  (Inteendeel, baie van die volk het ook nie gedink dit is logies nie -  -Eks. 14:12- "Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe").
-  Dit was nie logies dat Dawid die groot Goliat aangevat het nie... 
-  Dit was nie logies dat die volk die land Kanaan kon inneem met reuse en al nie...
-  Dit was nie logies dat Abraham sy familie verlaat om na 'n vreemde land te gaan nie...
-  Dit was nie logies dat Noag 'n ark gebou het terwyl daar nie 'n teken instoor was van 'n vloed nie...
-  Dit was nie logies dat Stefanus die waarheid op mense afgedwing het terwyl hy geweet het hulle gaan hom stenig nie!
-  Dit was nie logies dat Paulus in 'n stad vol afgodsbeelde gaan staan en preek het nie!
...........en so kan ons aangaan...

("MANNE VAN GOD", NEEM BESLUITE VOLGENS "DIE WIL VAN DIE HERE", NIE VOLGENS LOGIKA NIE!)
Die feit is, as ons net dit gaan doen wat logies is, dan gaan dit oor "hoe ons dit sien", en nie oor hoe "die Here dit sien" nie.  Moses het die Vader VERTROU, ten spyte van logika.  So ook Dawid, Josua, Abraham, Noag, Stefanus, Paulus...... Deur gehoorsaam te wees aan die Here en na Sy wil te soek, het hulle outomaties die "geloof" gehad, maak nie saak wat ander mense gese het en hoe ander die situasie "gesien" het nie.  Selfs Christene sukkel somtyds om die Here te vertrou - die rede hiervoor is, omdat dit nie altyd gaan oor "gehoorsaamheid" nie, maar gaan oor "logika"!  (Spr. 21:3- "Om geregtigheid en reg te doen, is vir die HERE verkiesliker as offers").  -Baie Christene dien die Here met wat vir hulle logies is, maar laat die geregtigheid na, nl. om die wil van die Here te soek/vra alvorens hulle 'n besluit neem.

Dit maak dus sin dat Jesus die gelykenis van die dienskneg vertel het toe die dissipels vir Hom vra, "gee ons meer geloof" (Luk. 17:5-10). "Meer geloof" gaan nie oor "outoriteit" nie, maar juis oor "gehoorsaamheid" - m.a.w. "om soos diensknegte te wees".  Die Christen van vandag lyk ook maar baie soos die "volk in die woestyn" - dit gaan oor die manier hoe ons verstaan en "sien".  In die brief aan die gemeente van Laodicense (Openb. 3:14-22), praat Jesus van hierdie "blindheid" en beveel hulle "om salf van Hom te koop vir hulle oe sodat hulle kan sien". So "sien" baie Christene "soos die wereld sien":  hulle begeer rykdom en die lewe het begin gaan oor "bymekaarmaak" (dinge waarteen Jesus ons spesifiek gewaarsku het);  dit gaan oor status, eer, voorspoed, seen, wereldse kennis...ens.  Vir Christene is die Skrif ook nie aldag so "logies" nie - die Christen van vandag sukkel maar om terme te verstaan soos:  
- "Wie sy lewe vind, sal dit verloor; en wie sy lewe verloor om My ontwil, sal dit vind".

Die persepsie van Christenskap het totaal verander en kan in baie kerke nie eens meer vgl. word met die van die eerste gemeentes of met Jesus se leringe nie.  
-So is Christene bv. bewus van die belangrikheid van vas en gebed, maar om die een of ander rede dink hulle nie hulle hoef self te vas nie en daar word nie veel tyd uitgesit vir alleentyd met die Here of om saam met 'n ander te bid nie. 
-So ook die bergpredikasie - dit is een van die bekendste gedeeltes in die Bybel en Christene luister graag na Jesus se woorde, maar om dit te leef, dit wat Hy van ons verwag in die bergpredikasie, wel, dit is nou 'n ander storie! As dieselfde van Christene vandag verwag moes word wat van die eerste gemeentes verwag was, nl. om alle besittings te deel en ekstra eiendomme te verkoop en dit aan die gelowiges te gee - hoeveel sou regtig bereid wees om dit te doen???  

 Basiese Christelike beginsels is baie verdraai en dit het massas gelowiges se denke beinvloed - so leer heelwat kerke vandag dat "dit nie die Here se wil is dat ons moet ly nie"; "dat gelowiges mag bid volgens hulle begeertes"; "dat gelowiges glad nie hulle saligheid kan verloor nie, al stap hulle ook in aahoudend opsetlike sonde...." -  as hierdie gesegdes bekend of reg klink, dan is daar 'n groot probleem! Dit is heeltemal onskriftuurlik en definitief nie waaroor Christenskap gaan nie.  Die kerk is in 'n dilemma. Die ergste is dat baie Christene hierdie dinge glo en nie eens besef hoe verdraaid hulle denke is nie.  Die oplossing is dat die gelowige self in 'n verhouding met die Here kom en Hom vra om hom te leer.  Gelowiges moet teruggaan na die woord en meer tyd maak vir die geestelike.  
     Die Christen wat "vrug dra", is die Christen wat die WIL VAN DIE VADER doen
 -( mag ons nie verval in wereldse sieninge nie)!

(Mat 7:21)  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.

(Mat 12:50)  Want elkeen wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is, dié is my broer en suster en moeder.

(Joh 5:30)  Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.

No comments: