Sunday, September 16, 2012

Geloof



Mattheus 6:7 -"Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie.  Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik."

Mense probeer hulle geloof "sterker" te maak, deur allerhande metodes:  deur iets baie hard uit te spreek, of om dit oor en oor te sê...hulle dink dat iets sal gebeur "as hulle meer geloof het". Dit is soos mense wat afgode aanbid en hulle dink dat deur sekere pligte of woorde te herhaal, hulle hulle gode kan omkoop.   MAAR GELOOF IS NIE IETS WAT JY PROBEER WAKKER MAAK NIE, OF IETS WAT JY MOET VERDIEN NIE! 

*  Ons raak te gou opstandig of bang!  Daar is geen manier hoe ons geloof op ons eie kan "produseer" nie, maar wanneer ons Hom ken en vertrou, ons gedagtes op Hom hou en gehoorsaam is aan Sy wil, dan verkry ons "geloof" outomaties.

*  Mense wil graag "meer geloof" hê sodat hulle 'n lekker lewe kan lei, deur ander geken word as "suksesvol" en met die idee dat hulle 'n lewe kan lei sonder probleme, maar "geloof" is nie 'n kaartjie om te kry wat ek wil hê nie.  (wat begeer ons?)  

*  Dit gaan nie oor om meer geloof te probeer kry nie, maar oor "Om my lewe in Sy hande te sit, heeltemal gewillig en tevrede en Hom toe te laat om te doen en vra wat Hy wil en Hom gehoorsaam te wees.  (minder van ons, meer van Hom!)
Iemand wat se hart nie reg is voor die Here nie, kan nie "meer geloof" kry nie.


Jou antwoord op die volgende vrae behoort 'n goeie aanduiding te gee van hoeveel "geloof" jy het:
*  Hoeveel tyd spandeer jy in GEBED tot die Here?
*  Is die Here jou eerste Liefde?
*  Is jy gehoorsaam aan die Here se opdragte en doen jy wat vir Hom aanneemlik is?
*  Soek jy in alles na die wil van die Here?
*  Vergewe jy ook ander soos die Here jou vergewe?
*  Is jy absoluut onderdanig aan die Here en wil jy 'n slaaf vir Hom wees?


Wanneer Jesus woorde gebruik het soos, "kleingelowiges" of "omdat julle geloof te klein is", is dit tog duidelik dat daar iets geskort het met die dissipels se "geloof".  Hulle vra dan ook vir Jesus op 'n stadium vir "meer geloof".
GEE ONS MEER GELOOF...
In Luk. 17:5-10 vgl. Jesus die hele kwessie van "meer geloof" kry, met die voorbeeld van "om 'n dienskneg te wees.  Dit gaan oor DIEN, nie oor wat jy kan kry nie!  Meeste gelowiges sien dit andersom en dan is dit niks anders as die "heidense" gelowe waar hulle hulle gode probeer omkoop nie.  God beantwoord gebede omdat Hy wil, nie omdat ons dit verdien nie. Geloof gaan oor "om die Here te dien", nie oor wat ek verdien nie. 


Dit gaan dus oor die gelowige se "uitkyk" op dinge -
*  Kies jy die Here omdat jy Hom liefhet en respekteer as die ware God, of kies jy Hom net omdat jy voordeel daaruit kan trek?


Mense soek "meer geloof" gewoonlik oor selfsugtige redes.  Wanneer my begeerte na" meer geloof" gaan oor wat ek kan kry of wat ek kan doen, dan gaan dit oor "my wil" en nie die "Here se wil" nie.  Baie min Christene verstaan wat dit beteken om die Here se slaaf te wees, omdat hulle nog nie regtig hulleself ONDERDANIG gestel het aan Hom nie - daarom sukkel hulle om "geloof" te verstaan, want hulle soek dit om verkeerde redes en nie om die Here se wil uit te voer nie. Die Christen moet bloot GEHOORSAAM WEES, dan sal "geloof" outomaties kom, m.a.w. " 'n dienskneg".

"GELOOF KOM DEUR DIE WIL VAN GOD TE KEN EN TE WEET WAT HY WIL DOEN"
Ons kan egter somtyds bewus wees van God se wil, maar wanneer ons dinge soos vrees, twyfel en bekommernis toelaat, dan demp dit ons geloof:


(Numeri 13:1-3 en 26-33.  Kyk veral na verse 31 en 31)



Onder die12 wat die land gaan verken het, was dit net Kaleb wat DIE GELOOF GEHAD HET dat hulle die land kan verower.  Die ander manne was so BANG dat hulle 'n slegte gerug onder die Israeliete versprei het.  Hier sien ons 'n duidelike vb. van waar God die land aan die volk belowe het en hulle absoluut geweet het wat Hy vir hulle sê om te doen, maar hulle VRESE veroorsaak het dat hulle nie genoeg geloof gehad het nie.  Hoekom het Kaleb die geloof gehad, maar nie die ander nie?  HY HET GOD SE WIL GEKEN EN HOM ABSOLUUT VERTROU! Kaleb het nie getwyfel in die Here se woord nie en nie toegelaat dat vrese dit oorheers nie.  Geloof is 'n hartsaak, 'n wete wat God vir jou gee en, van jou kant af, 'n vertroue in Hom.

Num. 14:8 -"As die Here ons goedgesind is, sal Hy ons na hierdie land toe bring en dit aan ons gee, 'n land van melk en heuning".  "AS DIE HERE ONS GOEDGESIND IS" - weer-eens 'n houding van 'n "dienskneg"!

* GELOOF IS ONDERWORPE AAN GEHOORSAAMHEID

- v. 9 -"JULLE MOET NET NIE TEEN DIE HERE IN OPSTAND KOM NIE.  Moet ook nie vir die mense van die land bang wees nie, want ons sal hulle maklik verslaan.  HULLE GODE SAL HULLE NIE KAN BESKERM NIE.  DIE HERE IS BY ONS.  Moenie vir hulle bang wees nie!" Die volk het verbitterd geraak en God begin kwalik neem vir die situasie waarin hulle was. (Dit het veroorsaak dat hulle kinders nog 40 jaar in die woestyn moes rondtrek voor hulle in die land kon ingaan en die ongelowiges het gesterf en nooit die land gesien nie!)

* GELOOF IS OM JOUSELF TE ONDERWERP AAN GOD SE WIL EN PLAN.




------------------------------------------------------------------------------------------------

Die antieke Grieke het in allerhande gode geglo - dit is selfs onmoontlik om te sê hoeveel Griekse gode daar was, letterlik honderde, maar hulle was van mening dat die gode hulle kon help.  Dit was soos 'n aangeleerde geloof waar mites en kennis oorgedra is van generasie na generasie.   Van die mees bekende onder die sogenaamde gode, was Apollo, Zeus, Demeter, Hermes, Ares en ander.  Die Grieke het geglo dat Apollo die toekoms ken,  Ares was die god van oorlog en kon in mense ingaan en woede in hulle skep sodat hulle die begeerte het om te veg.  Daar was ook Athene, die godin van wysheid en Demeter, die godin van groeiende goed.  Hermes was die god wat jou gehelp het wanneer jy op reis gaan en Aphrodite was die Griekse godin van liefde.  Alhoewel die gode vir hulle niks kon doen nie, het hulle voorgegee dat hulle baie verstandig is en in die plek van die onverganklike God, het hulle beelde opgestel wat lyk soos verganklike mense of soos diere.  (Rom. 1:23) 


Rom. 1:20,21 - "Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat Sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie.  
Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, AL WEET HULLE VAN GOD, hulle Hom nie as God eer en dank nie...".

Ons wil egter vra:   hoekom het die Grieke verkies om afgode te aanbid terwyl ons duidelik in Romeine 1 lees dat God, wat alles gemaak het, HOMSELF BEKEND MAAK AAN ELKE MENS.  Elke persoon in elke nasie en taal, raak op een of ander stadium bewus van die ware enigste God.    Hoekom dan aanbid en dien hulle eerder "dinge" as vir God Homself? Selfs "God se volk", die Israeliete, het baiemaal afgedwaal en baie van hulle het afgode begin aanbid.  Hulle het God se almag eerstehans ervaar en het geen rede gehad om agter gode aan te gaan nie, tog het baie van hulle, maar hoekom? 


*  Hoekom  het die Grieke, Egiptenare en ander nasies in so baie gode geglo?  En hoekom het so baie van die Israeliete gekies het om agter afgode aan te loop terwyl hulle die mense was wat werklik kon getuig van die enigste ware God en Sy krag en almag - hoekom sou enige van hulle kies om afgode te aanbid (soos in die woestyn met die goue kalf)?  
Die heidense volke se geloof was gebaseer op "wat hulle daaruit kon kry".  Dit was ook 'n "aangeleerde geloof" en nie noodwendig iets wat hulle "geweet" het nie, maar iets wat hulle "gekies het om te glo";  -mense hou daarvan om "in beheer" te voel en soek na 'n geloof waar hulle nie afhanklik is van wat God van hulle verwag nie, maar eerder waar hulle hom wil manipuleer deur "werke" om vir hulle goed te wees, m.a.w. mense "SPEEL" graag geloof!
Lees Romeine 1 in konteks:  Rom. 1:18-25
  Wat sê die skrifgedeelte, is die rede hoekom mense KIES om nie die ware God te aanbid nie?
Kyk spesifiek na vers 18 (b) - "mense wat die waarheid deur hulle ONGEREGTIGHEID probeer onderdruk";  en vers 25 - "Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen.  Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig...".  Afgodediens was die wortel van baie ONGEREGTIGHEID en ONSEDELIKHEID onder die heidene asook onder God se volk.  Tye wanneer die Israeliete afgode aanbid het, was wanneer hulle juis afvallig geraak het, gekies het om in sonde stap en nie wou regmaak met God nie. So, omdat hulle skaam was of bloot hardkoppig, kon hulle nie die ware God "in die gesig kyk nie", en het vir hulle dan afgode gemaak om die dinge vir hulle te doen wat God nie vir hulle wou doen nie;  asof die afgode enige iets kon doen! Sodoende het hulle gedink dat hulle kon voortstap IN SONDE sonder om reg te maak en vir hulle 'n god skep wat hulle nie beoordeel nie. Dit is soos 'n klein kindjie wat 'n tantrim gooi as hy nie kan kry wat hy wil he nie!  Hulle wou self "god" wees oor hulle lewe en wou eintlik net 'n god dien om selfsugtige redes. 

GEHOORSAAMHEID aan God se wil, was altyd 'n voorvereiste om in 'n verhouding met Hom te wees.  
In Christenskap gaan dit oor "om myself onderdanig te stel aan die enigste waaragtige God wat hemel en aarde gemaak het" en om tot die besef te kom dat, omdat ons almal sondig is, ons 'n Saligmaker nodig het en dat God die Vader Sy Seun, Jesus Christus gestuur het om vir ons die prys te betaal vir ons sonde sodat, as ons in Hom glo, ons in 'n regte verhouding kan wees met God".  Dit is verseker genade dat ons 'n kans kry om reg te maak met ons Skepper.  Om Jesus Christus as ons Saligmaker te KEN, maak die verhouding tussen ons en God die Vader, weer reg, sodat ons met vrymoedigheid na Hom kan gaan.

BAIE MENSE RAAK NET "DEEL VAN CHRISTENSKAP" OOR SELFSUGTIGE REDES, nie omdat hulle hulleself ondergeskik stel aan die almagtige God nie of omdat hulle begeer om Hom te ken of waarlik dien nie.  Hulle wil nog steeds doen soos hulle wil en stap in aanhoudende opsetlike sonde sonder om 'n oog te knip - dit is nie "geloof" nie!!!  GELOOF IS 'N HARTSAAK!  God ken elke mens se hart en weet wie Hom waarlik ken en liefhet! Om bewus te wees van sonde in ons lewens en dit daagliks te bely, is deel van Christenskap en die bewys dat ons GELOOF het in Jesus Christus as ons Saligmaker.  As ons die sonde ignoreer en dit nie bely en aflê nie, dan is ons hardkoppig en soek ons ons eie wil.  Christenskap word gekenmerk deur iemand wat God se wil soek.  OM GEHOORSAAM TE WEES, MAAK ONS GELOOF STERK;  INTEENDEEL, DEUR TE DOEN WAT GOD VAN ONS VERWAG, ONTVANG ONS "GELOOF" OUTOMATIES!  

Gehoorsaamheid en Geloof, gaan dus hand aan hand.  Ons kan nie geloof verdien nie, ons moet net gehoorsaam wees aan die Skepper, en dan sal ons outomaties geloof hê. "GELOOF" gaan nie oor dat ek "kies" waarin ek glo nie, maar gaan oor om God te erken as my Heerser en om Hom gehoorsaam te wees en onderdanig te wees aan Sy gesag volgens hoe Hy Homself aan ons openbaar.

Christene voel somtyds magteloos omdat hulle geen "krag" in hulle lewens ervaar nie.    Joh. 14:12 -"Dit verseker Ek julle:  Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen;  en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan". 

*  Hoekom skort Christene "geloof"?
Dit lyk of ons nie die enigstes is wat sukkel met "geloof" kwessies nie - selfs die dissipels  het gesukkel daarmee, al was Jesus by hulle dag en nag!  Jesus het baie gereeld met hulle gesels oor "geloof" en hulle geleer dat as hulle geloof het, hulle selfs berge kan versit! 

  Kom ons kyk hoe mense reageer wanneer hulle "nie  geloof  het nie" ? 

Matt. 8:23-27
"Waarom is julle bang, kleingelowiges?"

Matt. 14:22-35
"Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?"

Matt. 16:5-12
"Kleingelowiges!"
Opsomming:
*Matt. 8:23-27 - "waarom is julle BANG"  - Vrees veroorsaak dat ons nie geloof het nie.
*Matt. 14:22-35 - "moenie BANG wees nie"
                            "waarom het jy begin TWYFEL"  
-Vrees en Twyfel veroorsaak dat ons nie geloof het nie.

*Matt. 16:5-12 - In die gedeelte was die dissipels so BEKOMMERD oor die brood wat hulle vergeet het, dat hulle Jesus heel mis verstaan het toe Hy praat oor die Fariseërs en die Sadduseërs - Bekommernis veroorsaak dat ons nie geloof het nie (en ook nie altyd kan hoor wat die Here wil sê nie).
Dus:  Vrees, Twyfel en Bekommernis veroorsaak dat ons nie geloof het nie.


 WAT MOET ONS DOEN OM "GELOOF" TE HÊ?
(Ondersoek elke skrif hieronder in konteks (verse voor en na) om te sien wat ons moet doen om meer geloof te he)

Matt. 21:21 -"Daarop antwoord Jesus hulle:  Dit verseker Ek julle:  As julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle kan doen wat Ek aan die byeboom gedoen het.  Meer nog:  Julle sal vir hierdie berg kan sê: 'Lig jou op en val in die see!' en dit sal gebeur".

Matt. 14:14 -"As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen".

1 Joh. 3:22(a)  -"en wat ons vra, kry ons van Hom..."

Matt. 17:20 -"Omdat julle geloof te klein is", sê Hy vir hulle.

Mark. 11:23,24 -"Dit verseker Ek julle:  Elkeen wat vir hierdie berg sê: 'Lig jou op en val in die see', en daarby nie in sy hart twyfel nie, maar glo dat wat hy sê, gebeur, vir hom sal dit gebeur.  Daarom sê Ek vir julle:  Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees".  

Luk. 17:6 -"Maar die Here antwoord:  "As julle maar geloof so groot soos 'n mosterdsaadjie gehad het, sou julle vir hierdie moerbeiboom kon sê:  'Trek jou met wortels en al uit die grond uit en plant jouself in die see', en hy sou julle gehoorsaam."

Opsomming:
*Matt. 21:21 - v. 22 GEBED en GELOOF(vertroue)  is noodsaaklik - VERTROUE in Hom, in dat Hy enige iets kan doen. 
* Joh. 14:14 - vers 15 LIEF wees vir die Here, Hom GEHOORSAAM wees en GLO (vertrou),v. 11-13.
*1 Joh. 3:22 - vers 21 ons GEWETE moet reg wees - sodat ons die vrymoedigheid kan hê;  v.22 (b) - GEHOORSAAMHEID en GEREGTIGHEID.
*Matt. 17:20 - vers 21 GEBED en VAS (sommige vertalings)
*Mark. 11:23,24 - vers 25 wanneer jy bid, en jy het iets teen iemand, VERGEWE hulle

Geloof gaan dus altyd oor "DIE WIL VAN GOD".
 Alhoewel sommige meer en ander minder geloof het, gaan dit nie soseer oor "dat ek meer geloof  moet probeer kry nie, maar dit gaan eerder oor my verhouding met die Here God en om Sy wil te ken en gehoorsaam te wees.

Joh. 14:12 -"Dit verseker ek julle:  Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat ek doen;  en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan".


Hebr. 11:1 -"Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie".  Die vraag is:  WAAROP IS ONS HOOP?  Wat/wie  behaag ons?  Jak. 4:3 -"Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring". BEHAAG ONS REGTIG DIE HERE?  WIL ONS ONDERDANIG WEES AAN HOM? 

Hebr. 11:6 -"As 'n mens nie glo nie, is dit onmoontlik om te doen wat God wil.  Wie tot God nader, moet glo dat Hy bestaan en dat Hy die wat HOM SOEK, BELOON".  / 11:2 -"Omdat ons glo, weet ons dat die wêreld deur die woord van God geskep is:  die sigbare dinge het dus nie ontstaan uit iets wat ons sien nie".  IEMAND MET GELOOF, IS IEMAND WAT DIE HERE PERSOONLIK KEN, TYD MAAK MET HOM EN SY  WIL KEN; DAAROM  'N ABSOLUTE WETE HET VAN WAT SY PLAN IS.  
"GELOOF" IS NIE GEBASEER OP MY EIE WIL NIE, MAAR OM SEKER TE WEES VAN GOD SE WIL EN HOM ONVOORWAARDELIK TE VERTROU. As ons Hom soek, dan sal Hy ook tot ons nader, vir ons absolute sekerheid gee en Sy wil aan ons bekend maak, maar dan moet ons nie begin twyfel daarin nie, of toelaat dat vrees en bekommernis dit oorheers nie, maar Hom vertrou met ons hele hart. 
--------------------------------------------------------------
Iemand wat "geloof" het, is iemand wat die volgende kenmerke besit:
*Gehoorsaamheid

(Kinders wat "ongehoorsaam" is, het gewoonlik nie die nodige RESPEK vir hulle ouers nie;  dit kan ook wys op SELFSUGTIGHEID - die kind se "liefde" vir die ouer word dus bevraagteken - liefde, respek en onderdanigheid gaan hand aan hand  /  Wanneer 'n kind egter "gehoorsaam" is aan sy/haar ouers, dan is daar vertroue by beide partye) - Joh. 14:15 "As julle My liefhet, sal julle my opdragte uitvoer".     

*Om Lief te wees vir die Here
(Is jou begeerte na die Here?  Is Hy jou eerste Liefde? - Openb. 2:4 ; ...)
(As ons "liefde vir die Here" sou vergelyk met Liefde volgens 1 Kor. 13, dan kan ons die volgende vrae vra:  "Is jy geduldig om te wag dat God dinge doen op Sy tyd";  "Is jy hoopvol en vertrou jy op die Here met jou hele hart";  "Is jy bly oor die waarheid en soek dit by die Here, na Sy wil en Sy waarheid" .....ens.)


*Geregtigheid
Om "die regte ding te doen" is nie noodwendig God se wil nie bv. mense het baie verskillende opinies oor wat reg of verkeerd is, maar om die wil van God te soek en Hom gehoorsaam te wees, is "die regte ding" (geregtigheid).  Die skrif leer vir ons dat ons "geregtigheid" ontvang deur "geloof".  Ons moet die dinge doen wat VIR GOD AANNEEMLIK IS, nie wat ons reken aanneemlik is nie.

*Gebed
Jesus het vir ons 'n goeie voorbeeld gestel van hoe gereeld ons moet bid.  Die eerste kerke het ook daardie voorbeeld gestel - Hand. 1:14 -"Hulle het almal eensgesind volhard in die gebed..." - eensgesindheid kom ook saam met gebed, iets wat die kerk kortkom vandag.  (Ook Hand. 2:42).
Min Christene vandag is regtig besig met dit wat belangrik is: -om tyd in gebed te spandeer, om die Here ONVOORWAARDELIK te dien, om Hom gehoorsaam te wees en Sy wil te soek in alles, om die dinge te doen wat vir Hom aanneemlik is........................ ens. 

*Om ander te vergewe
Mark. 11:25 -"En wanneer julle staan om te bid, en julle het iets teen iemand, vergewe hom;  DAN SAL julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredinge vergewe".  Om ander te vergewe, is 'n VOORWAARDE sodat die Vader ook ons sondes vergewe.  Wanneer ons nie ander vergewe nie, dan sal die Vader ons ook nie vergewe nie - dit is eintlik baie eenvoudig - d.w.s. dan is ons nie in 'n "regte" verhouding met die Vader nie!
----------------------------------------------------------
Geloof moet nie gaan oor wat die mens wil nie, 
maar oor wat God wil. 


No comments: