Friday, September 7, 2012

Wat bedoel die Skrif met die term, "tweede dood"?

Wat bedoel die Skrif met die term,  "tweede dood"?

Kan iemand dan twee keer doodgaan? Oral waar die woord "dood" gebruik word in die Bybel, moet ons verstaan dat dit nie altyd dieselfde betekenis het nie, bv.: Kyk Spreuke 11:19 - "Ware geregtigheid lei tot die lewe, maar hy wat die kwaad najaag, jaag na sy dood" - dit is duidelik dat die woord "dood" hier nie verwys na liggaamlike dood nie, maar 'n ander soort dood, nl. iets wat die skrif noem die "tweede dood"  -  die tweede dood verwys na 'n spesifieke gebeurtenis en toestand.


(Openb. 21:8)  -"Maar wat die vreesagtiges aangaan en die ongelowiges en gruwelikes en moordenaars en hoereerders en towenaars en afgodedienaars en al die leuenaars hulle deel is in die poel wat brand met vuur en swawel:
 dit is die TWEEDE DOOD".

Met die Wit troon oordeel (Openb. 20:11-15), sal die mense wie se name nie in die boek van die lewe opgeskryf is nie, in die poel van vuur gegooi word - dit is die finale oordeel en word genoem, die
 TWEEDE DOOD.

Wat gebeur met die mens wanneer hy/sy doodgaan?
- Wanneer die mens doodgaan, is dit net die liggaam wat doodgaan, nie die siel en gees nie.  ( Jak. 2:26 - "Want soos die liggaam sonder gees dood is, s..." ) 

- Lees die verhaal wat Jesus vertel in Luk. 16:23 - 26 oor Lasarus en die ryk man in die doderyk. Ongelowiges en Gelowiges, gaan nie na dieselfde plek wanneer hulle doodgaan nie. 

 -In Joh. 11:11-14 praat Jesus van die dood as "slaap". Ook in ander skrifte word liggaamlike dood "slaap" genoem - Deut. 31:16; 2 Sam. 7:12; 1 Kon. 1:21 ens.  Almal gaan uiteindelik opstaan uit die dood en ons sien die vervulling daarvan in verskillende tye, ook op verskillende tye vir gelowiges as ongelowiges (Joh. 5:26-29)(Openb. 20:4-6).  Met Jesus se kruisiging was daar 'n opstanding van die Ou Testamentiese gelowiges (Matt. 27:52).  Christene wat nog in die lewe is wanneer Jesus terugkom, se liggame sal in 'n oogwink verander in verheerlikte liggame (1 Kor. 15:51-57) - ons sien ook hier die opstanding van die dooie gelowiges en hulle vorm deel van wat die Bybel noem,   die "eerste opstanding" .  Die "eerste opstanding behels die opstanding van die gelowiges, die wat "in Jesus gesterf het", asook die wat in die lewe oorbly wanneer Jesus terugkom, wie se liggame verander sal word na verheerlikte liggame (party mense noem dit "die wegraping");  die opstanding van die ongelowiges, gaan eers plaasvind na die 1000-jarige Vrederyk (Openb. 20:5,  11-15). 

-Daar is heelwat debat onder geleerdes oor of Christene direk hemel toe gaan wanneer hulle doodgaan.  Paulus skryf egter in 2 Kor. 5:1,2- "Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele. Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word".  Kyk ook na Pred. 12:7 -"en die stof na die aarde terugkeer soos dit gewees het, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het". (Kyk ook Pred. 9:5,6).




No comments: